KIES JOU UITGEWER / PUBLISEERDER / DRUKKER 2

As gevesdigde skrywer (ja, ek het met die skryf van hierdie artikel al reeds 28 boeke gepubliseer), word ek dikwels vrae gevra, onder andere ook oor die druk van boeke en registrasie van boeke in die skrywer se naam. Ek word dikwels ook uitgevra oor slaggate om te vermy.

Elke skrywer het sy/haar eie behoeftes as dit by die skryf van boeke kom. Ek is seker nie verkeerd met my aanname dat elke skrywer ook graag sy/haar eie boek in gedrukte formaat as ‘n boek wil vashou en besit nie. Dit is sekerlik die hoogste doelstelling of begeerte, buiten suksesvolle publisering. My boek, in gedrukte formaat, is waarna ek kyk vir inspirasie vir my volgende boek. Dit is my trots. Ek glo ander skrywers voel net so. My boek is nie afgehandel voor ek dit in my boekrak kan plaas nie. Die hunkering om jou boek in gedrukte formaat te besit, sal bly tot jy dit in hou hand hou.

Elke skrywer kom een of ander tyd in sy of haar skryfloopbaan, voor die keuse, waar om sy of haar boeke te publiseer en te druk. Die oorgrootte meerderheid van skrywers is nie so gelukkig om ‘n borgskap van ‘n publiseerder te kry nie en is gevolglik op sy of haar eie genade oorgelaat.

Met die term borgskap, verwys ek na die praktyk waar ‘n skrywer ‘n manuskrip indien by ‘n publiseerder en waar die publiseerder alle onkoste dra en die boek druk en uitgee, en waar die skrywer ‘n klein gedeelte van die opbrengs kry. Die uitgewer verdien die grootste deel van die opbrengs want hy/sy dra die risiko en al die onkostes. Daar is tog geen waarborg dat die boek sal verkoop nie. Indien die boek onsuksesvol is, dra die uitgewer die verlies. Die uitgewer bemark die boek om sy uitgawe met rente terug te maak.

Die maklikste opsie vir ‘n persoon is om self te publiseer; eintlik is dit die enigste opsie wat oorbly.

Selfpublikasie is waar die skrywer self sy of haar boek publiseer, sonder dat dit eers goedgekeur word deur een van die groot publiseerders. Daar is verskeie aanlyn publiseerders, waarvan Amazon, Smashwords en Kobo bekendes is. Daar is meer. Een van die top vyf boikot Suid-Afrika deurdat Suid-Afrika se inwoners nie by hulle kan koop nie, en gevolglik sal ek hulle naam nie vermeld nie. Ek sal geensins my boeke by hulle publiseer nie. Aanlyn publisering kos die skrywer niks geld nie. Sy of haar inkomste is meestal uit die verkoop van sy of haar boek in elektroniese format. Self publikasie plaas jou boek op die kaart, maar waarborg nie dat jou boek gaan verkoop nie.

Die meeste skrywers wil nie slegs aanlyn publiseer nie, maar wil graag in druk ook publiseer, om sy of haar eie boek in drukvorm te kan vashou en in ‘n versameling te plaas in sy of haar eie boekrak. Die goedkoopste opsie bly natuurlik sagteband. Die koste van hardeband is maklik dubbeld soveel om te druk, en selfs meer.

Verskeie aanlyn publiseerders maak gebruik van die opsie, “Druk op aanvraag.” Hier word die skrywer die geleentheid gegun om sy of haar boek te formateer volgens die publiseerder se riglyne en die koper kan die boek aanlyn bestel. Die boek word gewoonlik binne enkele dae gedruk en versend volgens die prysopsie wat die koper kies. Die koper moet vooruit betaal, wat verstaanbaar is. As die drukker duisende boeke moet druk, waar die koper uit die transaksie onttrek, kan hulle nie winsgewend wees nie.

Met die term riglyne van die publiseerder bedoel ek nie dat die publiseerder vir die skrywer voorskryf hoe om te skryf nie, maar die riglyne van voorkoms, sodat die boek byvoorbeeld korrek sal druk en nie woorde afgesny sal kry aan die kante nie.

Hierdie druk op aanvraag boeke is volgens algemene mening dikwels bekend daarvoor om goedkoop te wees en soms ook van swak gehalte te wees. Dit is egter nie in alle gevalle die geval nie. Die papier is meestal dunner as standaard en die drukwerk skyn deur, wat die lees van die boek bemoeilik. Dit is van die metodes om kostes te bespaar en dit mededingend te maak. Die omslag is dun papier of dun karton, en krul te maklik om. Die ontwerp van die voorblad is van swak gehalte en doen eerder afbreuk aan die boek as om dit te adverteer. Die hoofrede is omdat die skrywers van die aanlyn omslag ontwerp program gebruik maak, en die opsies beperk is. Ook natuurlik omdat hy of sy onervare is. Die boek se omslag is dikwels nie gelamineer nie. Daar is twee keuses van laminering vir gehalte boeke, glans en mat, met wasagtige afwerking. Die heel swakste opsie het geen laminering nie. Die boeke se bladsye kom los, of die boek breek in stukke, by die rugkante. Daar is oormatig baie spelfoute. Hierdie foute is maar net ‘n paar algemene klagtes oor die gehalte van slapband boeke.

Geagte skrywer, wil jy werklik die kans waag om bekend te word daarvoor dat jy swak gehalte boeke verkoop? Of wil jy gekenmerk word dat jou boeke van swak gehalte is? Wil jy onthou word as iemand wat sy lesers “verneuk” of “verkul” het met swak gehalte? Jy kan hierdie reputasie opdoen of verdien, sonder dat dit enigsins jou voorneme was.

Ek kyk na die volgende punte in die gehalte en vereistes van ‘n boek, en faktore wat pryse kan beïnvloed:

Papier en ink.

Die minimum dikte van papier wat ek sal aanbeveel is 70 gram per vierkante meter. Ons kry dit nie maklik in Suid-Afrika nie en gevolglik is 60 gram of 80 gram meer geredelik beskikbaar. 60 Gram is te dun en ek beveel dit glad nie aan nie. Ek verkies 80 gram, wit papier, met ‘n gladde afwerking. Die papier wat plaaslik beskikbaar is in skryfbehoefte winkels of supermarkte, verpak vir rekenaars, is geskik. Dit is nie net spierwit en 80 gram nie, maar is ook almal ewe dik, ewe groot en baie glad vir gehalte drukwerk. Drukwerk sal nie deurskyn van die agterkant af nie.

Wanneer ‘n foto album gedruk word, beveel ek dikker en beter gehalte papier aan. Vir digbundels en fiksie is die 80 gram papier ideaal.

Die skrywer moet in ag neem dat papier in standaard groottes verpak word, in pakke van 500 bladsye in die algemeen, in A5, A4 en A3 groottes. Daar is ander groottes ook te kry, maar dit is nie so algemeen te kry nie.

Sommige publiseerders druk op gelerige kleur papier om ou papier na te boots. Dit is nie baie realisties volgens my persoonlike voorkeur nie, alhoewel sommige mense dit sagter op die oë mag vind.

Daar is drukkers wat die sogenaamde spotgoedkoop verhale van 50 bladsye uitgee en dit is dikwels op papier gedruk soortgelyk aan koerantpapier, om koste te spaar en die boekies hou nie lank nie. Hierdie opsie het sy plek, want dit is ‘n goedkoop kopie vir iemand wat ‘n boek net een keer lees en dan sommer weggooi of weggee.

Ink wat spuit, trek in die papier in en jy sien die drukwerk aan die ander kant deurskyn. As jy met swetwerige vingers aan die geskrif raak, smeer dit. Die enigste ink wat oorweeg kan word is die laser tipe wat as poeier op die papier vasgebrand word.

 

Voorbeeld van goeie gehalte ink op 80 gram papier. Daar is geen deurskyning te bespeur nie. Die geskrif is duidelik leesbaar en vertoon netjies.

Hier is ‘n ligter tipe ink gebruik, want die papier is 60 gram. Die geskrif is ligter, maar skyn steeds deur. Hierdie boek is ‘n kommersiële druk op aanvraag boek wat Internasionaal beskikbaar is. Dit is ‘n 6 x 9 grootte. Dit is egter redelik ten opsigte van die koste en moet doen.

Hier vergelyk ek die twee met mekaar. Regs is die 80 gram papier en links die 60 gram papier. U kan die effense deurskyning waarneem op die 60 gram dikte papier.

Hier is ‘n voorbeeld van ‘n ingevoerde boek, gedruk op lae gehalte papier. Die papier is nie wit nie, maar tog aanvaarbaar. Die geskrif skyn geensins deur nie. Die boek hou steeds al sy blaaie na ongeveer 30 jaar. Ek het hierdie boek tweedehands gekoop en dit reeds drie keer gelees.

Grootte.

‘n Boek met A4 bladsye is dubbeld so groot as ‘n boek van A5 en gevolglik is die papier dubbeld so duur. Die A5 papier egter, vooraf gesny, kos tot soveel as 80% van wat A4 kos. Gevolglik is die gebruik om vier bladsye dwars op A4 te druk en dit dan in die helfte te sny. Dit werk meer ekonomies uit op papier, maar die nadeel is dat daar heelwat meer arbeid betrokke is. Die voordele oortref egter die nadele, want dit is die algemene praktyk.

Suid-Afrika, is wat eenheid betref, ‘n metriese land, en gevolglik gebruik ons die A-grootte papier. Imperiale lande gebruik duim, waarvan die 6” x 9” die gewildste is. A5 se gelyke is na aan 5.25” x 8” (143mm x 203mm teenoor A5 werklikheid van 148mm x 210mm). Die 6 x 9 grootte is ook baie gewild soos in menige boekwinkel aangetref word, veral onder ingevoerde boeke. As u egter hierdie grootte verkies in Suid-Afrika, moet van A4 papier gebruik word, en die buitenste gedeeltes word dus weggegooi na dit afgesny is. Dit jaag die onkoste onnodig op. Heelwat geld word so vermors.

Hier is die 6 x 9 grootte links en die A5 regs. U kan duidelik die verskil in grootte sien.

Rugkant en gom.

Slapband boeke word gegom aan die rugkant, en dit is die metode om die koste af te bring. Sommige boeke is in klein boekies gevou en aan die rugkant gestik en dan gegom. Dit is heelwat sterker en meer duursaam, maar dit is nie koste-effektief nie. Dit is ongelooflik duur. Dit is egter die mees duursaamste opsie. Dit is veral geskik vir biblioteke en geskenke of vir versamelings waar gomdruk slapband nie die keuse is nie.

Die gom wat gebruik word is gom wat met hitte gesmelt word en dan oor die rugkant aangewend word en die boeke word dan in die gevoude omslag ingevoeg en onder druk toegelaat om af te koel en te set. Baie plaaslike drukkers maak nie die gom warm genoeg nie, wend dit te dun aan of haal die boek te vinnig uit die pers. Gevolglik val die boek gou uitmekaar of kom van die bladsye los. Dit gebeur nogal algemeen en is die oorsaak dat daar ‘n stigma kleef aan plaaslik gedrukte slapband boeke.

Die rugkant van die boek is waar die bladsye met hierdie lagie gom aan die omslag vasgegom word en die karton se dikte is van groot belang on te keer dat die papier hier skeur en die boek so uitmekaar val.

Hier is ‘n pragvoorbeeld van ‘n goeie gehalte boek. Die omslag is dik, die hoeke is skerp en die gom is dik. Kyk ook hoe netjies is die boek se kante gesny, eweredig, gelyk en haaks.

Hierdie boekie is ingevoer uit Brittanje en het gou-gou uitmekaar geval. Die bladsye het losgekom. Die boekie is agterna met staal kramme aanmekaar geheg en kon so gered word en is steeds in my versameling.

Die merkies kan gesien word waar die stukke van die boek losgekom het. Ek sal beslis twee keer dink voor ek weer van hierdie drukkery se boeke aankoop. Dit is dalk ‘n onregverdige stelling wat ek maak, want die bladsye kon losgekom het omdat ek die boek te vêr oopgebuig het. U moet egter onthou dat een so ‘n geval jou ‘n reputasie kan gee.

Hierdie boek is reeds dertig jaar oud en hou steeds. Die omslag is duursame papier wat die boek aanmekaar hou. Die gom weerstaan die drukking waaraan die boek blootgestel word deurdat dit so dik is, maar geen skade is nog te bespeur nie, al is die papier nie die heel beste gehalte nie.

Hierdie industriële katalogus is in A4 grootte met ‘n goeie kwaliteit karton omslag. Dit was vir langer as twee jaar daagliks gebruik in die Ingeneursverskaffer winkel en dit hou steeds. Die gom is van goeie gehalte en die katalogus is in Suid-Afrika gedruk.

Hier is ‘n voorbeeld van swak papier en swak gom. Hierdie boek het nie goed verouder nie en val heeltemal uitmekaar.

Nog ‘n voorbeeld van ‘n boek wat uitmekaar begin val.

Omslag.

Dit is belangrik dat die omslag ten minste 300 gram papier is. Sommige publiseerders verskil van mening, maar hoe dunner, hoe gouer gaan dit meegee. Die omslag moet gelamineer word. Ek verwys hier na die boek se buitekant, nie die binnekant van die omslag nie.

Daar is twee tipes, die blink en die mat afwerking. Mat afwerking is buitensporig duur. Die blink afwerking is ‘n dun lagie plastiek wat nie vergeel soos kleefband nie. Dit versterk ook die papier waar dit aan drukking blootgestel word aan die rugkant. Sommige drukkers verskaf slegs 160 gram omslae wat gelamineer is en dit krul nogal gou om en dan lyk die boek klaar naar.

Die gehalte van die omslag prentjie of foto kan jou boek maak of breek. Hier moet jy baie seker wees dat jou drukker goeie keuses maak, as jy hulle die werk laat doen. ‘n Verbroude omslag kan heelwat minder verkope tot gevolg hê.

Jou opsomming (“synopsis’) moet op die agterkant verskyn, anders gaan jou verkope merkbaar daal. Wie gaan ‘n boek teen volprys betaal as jy nie kan sien waaroor die boek gaan nie? Die boek se titel moet ook op die rugkant pryk en duidelik leesbaar wees, sodat jy die boek maklik in ‘n boekrak kan vind. Neem kennis, dat boeke dunner as 6mm, nie van geskrif op die rugkant voorsien kan word nie.

As jy aan jou drukker jou eie omslag ontwerp voorsien, is die aanbevole grootte 2000 x 3000 pixels teen 300 dpi. 300 Dpi is 300 punte per duim (dots per inch). Minder as 300 dpi verminder die fokus van wat op die omslag verskyn.

Hier is die riglyne van die drukker of publiseerder nogal belangrik. Jy moet weet waar die grense is waar die boek se kante gelyk gesny gaan word. Dit gaan ‘n totale gemors wees as jou teks afgesny gaan word. Dit gaan ook net so ‘n ramp wees as daar ‘n spelfout in jou titel voorkom. Let wel, na die bladsye aan die rugkant vasgegom is, is die bladsye nie eweredig nie. Die drukker sny dan aan die bokant, onderkant en die teenoorgestelde kant as die rugkant 2–3 mm weg om dit perfek eweredig te maak. Somige skrywers formateer hul boek so dat die skrif so na aan die kante is, dat van die geskrif weggesny word. Dit is meer oplettend by die voorblad se prentjie.

Deelnemende publisering.

Skrywers van gedigte en kortverhale plaas dikwels hul verhale of gedigte op hul eie mure of op sosiale mure en vriende of volgelinge kan dit lees. Hulle word soms deur publiseerders genader en gevra of hulle van hierdie gedigte of kortverhale in ‘n bundel mag publiseer. Skrywers skryf soms hul werk in. ‘n Bundel word deur die publiseerders uitgegee en hy/sy doen sy/haar verkope. Ek sou dit as redelik beskou dat die skrywers ten minste elkeen ‘n eksemplaar gratis sal ontvang, want die publiseerder verdien nou geld met die skrywer se werk. Sommige publiseerders verwag egter dat die skrywer moet betaal vir sy/haar eksemplaar. Hierdie bundel se ISBN word deur die publiseerder in sy/haar naam geregistreer. As jy jou werk in ‘n bundel laat deel, laat die voorwaarde in ‘n kontrak vermeld dat jy jou kopiereg bly behou. Daardie bundel mag dalk vir jou bind dat jy nie jou eie gedig mag publiseer in die toekoms nie. Ek het onlangs ‘n bundel aanskou, waar die publiseerder elke digter volle erkenning gee.

Lokvalbemarking

Wees versigtig vir praktyke wat jou meer onkostes uit die sak jaag as waarop jy gereken het. Ek sien verskeie voorbeelde waar slegs die skrywer kortkom en die ander partye al die pad bank toe lag.

Ek het onlangs ‘n geval gesien waar ‘n paar skrywers hul boeke inskryf vir ‘n kompetisie en hulle moes vooraf vir die proeflees betaal, teen pryse wat onredelik is. Hulle het vir die proeflees meer betaal as wat ek vir die druk, wat proeflees, omslagontwerp en uitleg insluit het vir 100 boeke by my gunsteling publiseerder. Dan moes hulle nog vir die druk van hul boek ook betaal.

Wat kan jy van jou drukker verwag?

Ek gaan reeds van die veronderstelling uit dat jy boeke wil laat druk om self te bemark en te verkoop.

Ek verlang dat my drukker of uitgewer my van eerlike raad en advies sal voorsien. Ek verwag eerlikheid van my publiseerder.

Waar dit by die ISBN nommer se verkryging kom, verwag ek dat die publiseerder die boek in my naam sal registreer aangesien ek net die boek by hom of haar laat druk. Die publiseerder gee nie die boek uit of borg dit nie. Ek het geensins my intillektuele reg aan die publiseerder verkoop nie. Ek verwag die ISBN bewyse terug en ek verwag dat die drukker een boek (waar jy 100 of minder laat druk) by die Staatsbibliotreek sal inhandig as deel van die registrasieproses. Waar dit meer as 100 boeke is, moet die eksemplaar by 5 verskillende staatsbiblioteke ingehandig word. Weinig van die publiseerders of drukkers doen dit vir jou. Van hulle registreer die boek in hul eie name. Vir wat? Jy laat dan net by hulle druk. Ek verskil ernstig van mening hieroor.

Ek verwag my volle hoeveelheid eksemplare. As ek 100 boeke laat druk en daarvoor betaal, verwag ek 99 boeke om na my te kom. Die drukker of publiseerder moet mos 1 by die Staatsbiblioteek inhandig. Sommige publiseerders hou verskeie boeke terug, soveel as 30%. Vir wat? Daar is geen rede daarvoor na my mening nie. Jy moet kry waarvoor jy betaal. Ek sal self verkoop, tensy ek ‘n ooreenkoms of kontrak het met die publiseerder as hy of sy van my boeke gaan verkoop. Dink twee keer as die drukker boeke wil terughou om namens jou te verkoop. Dit is nie verkeerd nie, maar maak baie seker dat dit wel gaan gebeur en dat jy nie aan die kortste kant trek met onrealistiese kommissie nie. Maak seker dat hierdie aspek in die kontrak beskryf word met’n waarborg vir jou as kliënt. Die verkope moet gewaarborg word met boeke terug waarborg. Maak seker oor die tydperk en versendingkoste.

As ek my boek by ‘n publiseerder laat voorberei, en ek betaal daarvoor, stofomslag ingesluit, is dit my eiendom, intellektuele eiendom ingesluit, want ek het daarvoor betaal. DIT IS NIE DIE PUBLISEERDER SE EIENDOM NIE! Daar is steeds publiseerders wat so werk. As hulle jou borg is dit egter regverdig dat hulle die intellektuele reg op die omslag mag behou. Ook in gevalle waar betaal word om die foto van ‘n derde party te mag gebruik. Hier verwys ek na gevalle dat jy vir die gebruik betaal, sonder dat die intellektuele reg joune word. Die publiseerder mag dalk die intillektuele reg wil behou, maar dan moet die kontrak dit uitspel vir hoeveel kopieë en teen watter koste.

Waar ek betaal vir redigering en proeflees, verwag ek dat gehalte gelewer word en dat die spelfoute reggestel word. Baie skrywers kla dat sommige publiseerders hulle laat betaal en dan is die spelfoute steeds daar. Waarvoor het jy dan betaal? Sommige publiseerders hef onrealistiese pryse vir proeflees. Ek kan net een gevolgtrekking maak, wat ek eerder nie wil meld nie.

By proeflees wil ek graag die volgende uitwys:

In Afrikaans is daar soms meer as een metode om iets te skryf. So as jy een metode verkies en iemand anders verkies die ander metode, beteken dit nie dat jy ‘n spelfout gemaak het nie. Verskeie woorde het meer as een spelling, en jy kan kies. Jou proefleser mag dalk uitwys dat jy die verkeerde keuse gemaak het ten opsigte van konteks. Ek verwag dat my proefleser my hier sal adviseur. Sommige skrywers skryf soos mense praat en druk daardeur persoonlikheid uit en nie noodwendig swak spelling nie. Ek ken ‘n persoon wat gereeld die vraag vra: “Vir hoekom?” Ons, sy kollegas en vriende ken hom so. As ek ‘n karakter op hom wil bou, is dit hoe ek dit sal doen. Dit is nie noodwendig swak taalgebruik nie. Kom ons kyk na die Afrikaanse spelreëls. Twee woorde word met ‘n S saamgevoeg as een. Bad plus kamer is badskamer. Die woordeboeke gee dit ook so aan, maar in die Kaap word gepraat van badkamer, sonder die S. Die skrywer kan hier die keuse uitoefen en die proefleser moet die konteks kan lees. Ek maak van ‘n privaat proefleser gebruik wat in voeling is met my skryfstyl en sy het nog net die heel beste diens vir my gelewer. Sy verkies om anoniem te bly.

Ek verwag ‘n redelike omdraai tydperk. As my boek klaar geredigeer is verwag ek die boek moet binne twee weke gedruk word, nie eers na ‘n paar maande nie. As die publiseerder vir my ‘n sperdatum gegee het, verwag ek dat hy of sy daarby hou. Ek het immers daarvoor betaal. Ek het onlangs gesien waar skrywers die publiseerders hof toe neem omdat hulle ten duurste per kontrak betaal het en die boeke word na maande nog nie gelewer nie.

Ek verwag dat my boek by my afgelewer sal word as ek dit oor lang afstand bestel. My publiseerder moet my meer as een opsie gee en ek sal self kies. Sommige publiseerders vra ten duurste vir aflewering, maar agterna is dit per gewone pos gestuur wat net ‘n fraksie van die koste is wat betaal is. Een publiseerder wat boeke nie op datum gelewer het nie, het nogal die poskantoor blameer dat hulle staak, terwyl dit nie die geval is nie. Dieselfde drukker hef vervoerkoste ten duurste, maar as jy wel jou boeke ontvang, was dit met gewone pos gestuur. Maak seker dat die afleweringsmetode jou pas. Jy kan aandring op ‘n opspoornommer ook.

Ek kies ‘n publiseerder met wie ek ‘n besigheidsverhouding kan handhaaf. Ek wil die vrymoedigheid hê om versoeke te mag rig, byvoorbeeld, ek wil net 25 boeke druk of 150. En nie net 100 of 1000 nie. Ek wil self my keuses kan maak oor uitleg en nie net oordonder word dat elke keuse my meer geld gaan kos nie. Ek verlang die getal waarvoor ek betaal het.

Ek verwag dat ek ‘n proefboek kan kry as deel van die pakket, sodat ek eers kan kyk of dit reg is volgens uitleg, gehalte, omslag, ensovoorts. As jy seker is dat jou boek foutvry is, kan jy die proefboek oorslaan, maar dan is dit jou eie verantwoordelikheid.

Ek verwag dat ek afslag kry waar ek alles self doen ten opsigte van uitleg, redigering, proeflees, omslag onwerp en uitleg.

Ek verwag dat my dokument behoorlik soos internasionale standaarde, reg rondom justeer (“Justified”) is.

Wanneer ek ‘n herdruk doen, hoef ek mos nie weer te betaal vir uitleg nie, dit is mos reeds gedoen. Ek verlang daardie afslag. Die meeste publiseerders hef daardie uitgawe weer. Dit beïnvloed my keuse oor waar ek gaan publiseer.

Kontrakte.

Sommige publiseerders vereis dat die skrywers of kliënte kontrakte moet teken. Ek het in beginsel nie problem daarmee nie, aangesien dit beide partye kan beskerm teen mekaar.

Ek het egter ‘n groot problem daarmee dat die skrywer ‘n kontrak moet teken dat hy of sy slegs by die publiseerder mag publiseer terwyl hy of sy self al die onkostes moet dra, en dit ten duurste is. Die publiseerder het nie die boek se publikasie geborg nie. Die publiseerder registreer ook die ISBN nommer in sy of haar (publiseerder) se naam. Ek sal nie met so ‘n publiseerder besigheid doen nie.

Ek het geen problem met die vermelding van pryse getalle en lewering tydperk in kontrakte nie. Dit is standard besigheidspraktyk.

Ek het ‘n probleem daarmee as ‘n publiseerder van my verwag om ‘n maandelikse vaste bedrag moet betaal vir ‘n tydperk en dan jou boek druk en namens jou publiseer. Daar is nie ‘n manier nie. Maak bietjie jou sommetjies. Daardie boeke mag jou uitsonderlik duur kos as jy nie mooi sommetjies maak nie. Ek publiseer soms tot vier boeke in een jaar. Moet ek nou ‘n sogenaamde kontrak vir al vier teken? Ek kan nie myself voorstel of indink dat dit vir die skrywer winsgewend kan wees nie. Ek sal eerder so ‘n publiseerder vermy en een kies wat my boeke lewer teenoor die bedrag wat ek betaal. Kom ons maak gou ‘n eenvoudige sommetjie: Ek skryf ‘n boek van 200 A5 bladsye en die boek kos R60.00 om te druk.

Publiseerder A vra my R6000.00 plus R500.00 vir proeflees en sê R800.00 vir koerierdienste. My rekening is R7300.00. Dit werk uit op ongeveer R74.00 per boek, want ek kry 99. Ek kan verkoop teen argumentsonthalwe R130.00. Dit is billik en my wins is R56.00 per boek.

Publiseerder B vra my R500.00 per maand vir twee jaar. Dit kos my dan R12000.00. Ek kry net ‘n paar eksemplare en moet addisioneles koop. Hy gaan vir my verkoop en my kommissie betaal. Kom ons sê ek kry vyftig en hy hou vyftig. Ek moet my boeke teen R240.00 verkoop om gelyk te speel. Hy gee nie waarborg hoeveel hy gaan verkoop nie. So ek is vir twee jaar vasgevang in die kontrak se voorwaardes. Hierdie metode sal slegs vir my werk as die boek ‘n weghol treffer is en baie eksemplare verkoop. Ek het nog nie koerierskoste en redigeringkoste ingesluit nie. Ek kan nie eers deur my verbeelding te gebruik my verbeel ek gaan wins maak nie. Die enigste persoon wat in hierdie geval geld maak, is die publiseerder. Ek is nie dom nie. Ek kan mos my eie sommetjies maak.

Ek sal dit ‘n vereiste maak in ‘n kontrak teenoor die publiseerder dat die boek se ISBN in my naam geregistreer word. Waar die publiseerder dit egter borg, sal ek vereis dat daar in die kontrak gemeld word vir hoe lank en hoe dit weer terug na my sal kom. Ek plaas my vorige artikelmoor ISBN nommers aan die einde van hierdie artikel.

Pryse:

Ek verwag billike pryse. Ek verkies om direk met die publiseerder te onderhandel. Ek wil nie graag deur ‘n middelpersoon werk nie. Vra hy of sy dalk geld daarvoor? Dan werk my boeke mos duurder uit.

Ek weet dat pryse deur brandstofverhogings beïnvloed sal word. Publiseerders moet ook lewe. Hulle druk nie boeke om skrywers te plesier alleen nie. Dit kos geld.  So ek weet pryse gaan duurder word as gevolg van inflasie.

Wat verwag die publiseerder van my?

Ek moet vir die publiseerder volle besonderhede kan gee voor ek ‘n kwotasie kan verwag. Hieronder is die besonderhede wat ek voorsien, sodat die publiseerder presies kan weet hoeveel bladsye hy of sy voor moet kwoteer:

– A5 grootte.

– 172 bladsye (Ariel skrif teen 12 grootte – sluit vier bladsye vir aanhef, kopiereg, opsomming en erkenning in).

– Grense (kante se spasiëring) is reeds uitgelê.

– Omslag sal klaar klaar ontwerp wees (alle fotos sal aangeheg wees).

– Speltoets reeds gedoen.

– Boek sal in pdf opgestel word sodat die uitleg verseker is.

– ISBN is reeds verkry of moet verkry word.

– Hoeveelheid verlang

– Dikte van omslag en hoe gelamineer.

– Woonadres of waarheen besending versend moet word.

– Wanneer dit verwag word (onthou, jy is nie die enigste kliënt nie).

– Of ‘n proefboek verlang word of nie.

Nou sal die publiseerder vir my kan kwoteer. Ek verwag nie addisionele heffing vir speltoets, redigering of omslagontwerp nie (waar ek dit self ontwerp het nie). Dit bly ook my intellektuele reg na druk en ek verwag al my kopieë (minus wat by Staatsbiblioteek ingehandig word).

Dit het geen waarde as ek vir my publiseerder sê en het 80 bladsye (45 000 woorde) A4 geskryf teen Ariel 12 nie.

Die publiseerder kan nie ruik hoeveel lynspasies, hoeveel paragrawe of dialoog jy gebruik het nie. In die eerste persoon geskryf, kan die boek in A5 dalk 140 bladsye beslaan omdat dit minder dialoog beslaan en die paragrawe lank is, of 230 bladsye, omdat die boek in die derde persoon geskryf is met baie paragrawe en heelwat meer dialoog. Die drukker kan nie vir jou kwoteer vir 140 bladsye en dan is dit 230 bladsye nie. Wees realisties en doen eers jou huiswerk voor jy pryse vra.

Neem kennis van die feit dat publiseerders huiwerig is om buitensporige dik boeke te druk of kliënte eenvoudig wegwys. Wanneer ‘n boek dikker raak as 600 bladsye, word 300 blaaie gebruik. Die snypers moet heelwat meer wringkrag gebruik om deur die hoeveelheid papier te kan sny en die lem word warm. Sodra die lem se temperatuur styg, raak dit gouer stomp of klein, amper onsigbare stukkies van die snykant breek af en wys sigbare merke waar dit gesny het. Hierdie lem moet nou weggestuur word vir skerpmaak en produksie moet gestaak of onderbreek word. Die slytasie op die snypers is ook hoog.  Sommige publiseerders gaan jou wegwys of duurder vra. My omnibusse is almal tussen 800 en 900 bladsye dik. Ek het maar onlangs eers bewus geraak van hierdie feit en verstaan nou waarom dit soms deur publiseerders vermy word. Die lemme kan ook net tot ‘n punt skerpgemaak word en moet dan vervang word. Die snypers kos tans so ongeveer R70 000.00 tot R80 000.00. Dit is ‘n groot uitleg. Waar dit te dik raak is die alternatief om dit oorsee te laat druk. By Amazon is die perk 829 bladsye en ek moet my teksgroote kleiner maak, wat lees bemoeilik. Amazon is goedkoop om dit te druk, maar die posgeld en belasting is duur. Doen jou huiswerk voor die tyd om teleurstelling te voorkom.

Die publiseerder verwag van jou om jou proefboek na te gaan en te sertifiseer dat dit reg is vir druk. Moenie agterna beskuldigings maak of eise stel dat daar nog steeds foute is nie. Jy as skrywer het dit dan as korrek gesertifiseer! Waar jy die goedkoper opsie kies dat daar nie speltoets of proefboek betrokke is nie, het jy geen gronde om die publiseerder te verwyt nie.

Enige publiseerder of drukker weet dat hul kliënte na ander verskaffers kan gaan as hulle nie hul deel van die ooreenkoms nakom nie. Daar is egter skrywers wat hul drukkers soos ‘n kultus navolg en sommige van hierdie drukkers weet dit. Hulle vra astronomiese hoë pryse.

Die publiseerder verwag van jou dat jy oor die kopiereg beskik van enige foto wat jy voorlê om op jou buiteblad of in jou boek te gebruik. Die publiseerder verwag ook om ‘n foto beskikbaar te stel wat oor genoeg resolusie beskik om gebruik te word. As jy as skrywer ‘n foto met te klein grootte voorlê, kan dit nie gebruik word op die voorblad sonder om gehalte te verloor nie. Hierdie aspek is nie veranderbaar nie en daaroor kan nie geargumenteer word nie. As die skrywer swak gehalte fotos voorlê, sal die gehalte swak bly. Fokus kan slegs op hoë resolusie fotos verbeter word, en die resultate kan nie gewaarborg word nie.

HOEKOM MAAK EK MY KEUSE?

Die groot vraag.

Hierdie boek is die eerste boek wat ek aanskou het, wat gedruk is deur Mar-Leo Publiseerders. Dit voldoen aan al die vereistes wat ek genoem het en ek het onmiddellik besluit ek wil my naam koppel aan hierdie kwaliteit.

Hier is my versameling boeke, 19 van die 28 wat tot dusvêr gepubliseer is. Daar is nog by Mar-Leo in druk en ek kan nie meer wag om dit te onvang nie. Die 3 links en die 1 in die middel is A5 en hulle is gedruk by Mar-Leo. (Meer is sedert hierdie foto al gedruk). Die ander is deur ‘n groot publiseerder gedruk op druk-op-aanvraag uitleg en is 6 x 9 grootte. Die druk op aanvraag kwaliteit weeg nie op teen Mar-Leo se gehalte nie. Ek wil van nou af al my drukwerk by Mar-Leo laat doen.

Ek vertrou vir Mariëtte, wie by Mar-Leo werk. Sy het nog net altyd eerlik met my gewees en sy het my ISBN nommers in my naam aangevra, op haar onkoste. Haar omdraaitydperk met die laaste groot bestelling was redelik. Ek herhaal: Ek weet van ander skrywers wat al langer as drie maande vir hul drukwerk by ander publiseerders wag.

Haar pryse is uiters billik. By herdruk vra sy my nie weer kostes vir uitleg nie. Mariëtte gee my ook advies ten opsigte van my boeke en bestellings. Sy adviseur my ook ten opsigte van pryse en dienste van koeriers.

‘n Eksemplaar van my boek Vergelding, het ek geskenk aan ‘n tehuis vir bejaardes se biblioteek. Die boek is nou al deur meer as 40 mense gelees en steeds is nie een bladsy los nie. Dit getuig van die gehalte van Mar-Leo Publiseerders.

Ek het nou al reeds met verskeie persone gepraat wat hul boeke by Mar-Leo laat druk het, en almal is dit eens dat die gehalte onberispelik is en heelwat van hulle se boekbekendstellings, het ek bygewoon, wat Mariëtte gereël het.

Mariëtte bemark die boeke ook op haar webblad en vra niks daarvoor nie. Sy gebruik ook ander media vir bemarking. Die meeste van haar kliënte laat herdruk oplae doen, want sy bemark haar skrywers se boeke en hulle verkoop.

Haar boekbekendstelling funksies is ‘n belewenis om by te woon. Sy het die diens, waar sy die omslag aan die skrywer oorhandig, geraam, en dit word nou deur ander uitgewers slaafs gena-aap.

Ek hanteer my eie grafiese ontwerpe en ek stel my eie omslae op, maar Mar-Leo Publiseerders kan hierdie diens teen bekostigbare pryse aanbied en ek kan hul diens en prys met die grootste vrymoedigheid aanbeveel. As hulle jou adviseer dat ‘n uitleg nie gaan werk nie, kan jy dit maar aanvaar. Hulle is kenners op hul gebied, nie mense wat jou uitbuit en jou net sal paai om in jou goeie boekies te bly nie. Hul dienste ten opsigte van proeflees is ook billik en akkuraat.

Ek gaan nie maklik na ‘n ander uitgewer oorskakel nie. My reputasie as skrywer, gaan ek nie blootstel aan swakker gehalte nie. Daar is uitgewers wat reeds bekend is daarvoor dat jy as skrywer nie eers met hulle moet praat nie. Wees versigtig en dink voor jy jou keuse maak.

© Johan Crous.

Hier herhaal ek my artikel oor die ISBN nommers (gewysig)

ISBN nommers, wat is die bohaai? Deur Johan Crous.

Ek is al by verskeie geleenthede uitgevra oor ISBN nommers en wat dit beteken. Ek het heelwat navrae daaroor gedoen en baie van die vrae word beantwoord deur ISBN.org se FAQ bladsy. Kyk by

ISBN.org

Wat is ‘n ISBN nommer? Dit is die afkorting vir International Standard Book Number, wat sedert 1970 ingestel is. Aanvanklik was dit 10 syfers en sedert 2007 is dit 13 syfers.
Wanneer ‘n skrywer ‘n boek skryf, vra hy self, as selfpubliseerder, of sy publiseerder, die ISBN nommer van een van ongeveer 160 wêreldwye, gemagtigde kantore aan. Elke land het sy eie unieke voorvoegsel in nommer. Die skrywer / publiseerder moet die nommer in strepieskode op die voorgeskrewe formaat agter op die boek aanbring. Verskeie formate is in omloop wat niksseggend is en nie die skrywer se boek, ten opsigte van kopiereg beskerm nie, want dit is in foutiewe formaat. Die voorgeskrewe formaat lyk so:

Om die nommer te verkry en op die boek aan te bring beteken absoluut niks. Die skrywer het geen beskerming nie. Die skrywer / publiseerder moet een kopie by die Staatsbiblioteek in SA inhandig, sodat die boek geregistreer kan word. Die Staatsbiblioteek, die registrasie-owerheid in SA, registreer daarna die boek by die wêreldwye owerheid, www.bowkerlink.com. Dan eers is die boek geregistreer.

Skrywers is steeds nie verseker van hul eie boeke nie. ‘n Skrywer het my onlangs gekontak, hoogs ontstelt, toe hy agtergekom het sy publiseerder, wie sy boeke by amazon.com gepubliseer het, verdwyn het. Die publiseerder het die wagwoord, en het die skrywer se boeke op sy eie naam (publiseerder) geplaas. Hy kry steeds die eienaarsregte en die skrywer kry niks want hy is weg, sonder om kontaknommers te laat. Dit gebeur daagliks en baie skrywers weet nie daarvan nie.

Skrywers, kom ek verduidelik waaroor dit gaan. Jou boek is in omloop en op ‘n dag kom jy agter jou werk is deur iemand anders as sy eie gesteel. Jy kan maar hof toe gaan, want jy het nooit geweet dat jou boek nie by die Staatsbiblioteek ingegee is nie en dus nie by die wêreldowerheid geregistreer is nie. Jou boek het dus nie enige kopiereg wat in ‘n hof gaan staan nie. Die dief het jou werk op die voorgeskrewe wyse geregistreer en jy gaan verloor en die hofonkoste ook moet betaal en dit kan jou finansieël ruineer.
Jy moet jouself vergewis dat jou publiseerder die boek in jou naam registreer en die bewys aan jou stuur. Dan het jy gemoedsrus. Jy kan by die volgende drie skakels gaan kyk of jou boek geregistreer is.

worldcat.org
www.sapnet.co.za
www.bowkerlink.com

Wanneer jy jou boek deur iemand anders laat publiseer, maak baie seker dat die boek deur ‘n kontrak gerugsteun word. Sommige skrywers het hulle boeke laat druk, en die publiseerder bied as deel van die diens die verkryging van die ISBN nommer in. Die skrywer ontvang sy boeke, net om later uit te vind die publiseerder is bankrot of dood en sy boek is nou deel van die boedel. Iemand anders mag dalk as deel van die betaling jou intellektuele reg verdien. Maak seker dit is in jou naam.
Skrywers wat eboeke wil publiseer, maak seker dat jy die reg het tot jou eie boeke. As iemand anders die boek by amazon.com of enige ander aanlyn boekhandelaar publiseer, het hy/sy die wagwoord om die boek te onttrek of die prys te verander. Jy het geen seggenskap nie. As hy verdwyn soos ek vroeër gemeld het, waarheen gaan jou geld? Maak seker jy word nie gevang nie.
Verskeie boeke word in SA gedruk vir skrywers en ek sien die boeke bevat geen ISBN nommer nie. Dit is nie onwettig nie, en die die boeke is werklik mooi. Enige Jan Rap en sy maat kan egter die inhoud as sy eie elders gebruik en jy as skrywer het geen verweer of reg nie, want jy het dit onwetend toegelaat. Die weglating van die ISBN is die aanduiding dat die boek se inhoud vry van kopiereg is.

Ek as skrywer, het al my boeke geregistreer of laat registreer op die voorgeskrewe wyse en nou het ek volkome gemoedsrus. Ek is deur eerbare mense geadviseer en gehelp. Kyk maar op my persoonlike profiel.

Wees versigtig waar jy jou boek publiseer as die publiseerder die ISBN in sy/haar eie naam registreer. Kom ek gee jou ‘n praktiese voorbeeld om dit in eenvoudige terme uit te spel:

Jy is Sannie Nel, en jy publiseer jou boek, Verlossing, by Gert publeerders.

Jou boek kos R60.00 per eksemplaar om te druk en jy bestel 100 boeke. Dit kos jou R6ooo.oo. Jy verkoop teen R100.00 elk en jy maak R4000.00 wins. Jy verkoop goed, want jy bemark goed. Jy bestel nog 100 boeke en hulle verkoop net so goed.

Tydens die verkoop sterf Gert en sy skuldeiser, Paul, kry beheer oor die ISBN regte. Hy verkoop verder. Hy ken jou nie eers nie. Die boek word ‘n weghol sukses en hy verkoop 10 000 eksemplare. Hy hou die R40 000.00 wins vir homself.

Die boek word verfilm en die Paul kry R500 000.00 vir die regte.

Jy, Sannie Nel, huil lang trane, maar jy het geen reg nie. Jy het mos toegelaat dat Gert jou boek in sy naam registreer. Jy was mos lojaal aan Gert en wou nie glo toe jy gewaarsku is nie. Terloops, Paul laat die boek in Engels, Duits en Frans vertaal. Hy gaan nog lank geld maak. Al wat jy, Sannie Nel, kry, is dat mense weet jy is ‘n goeie skrywer.

Neem kennis dat ASIN nommers (10 syfers) die alternatief vir ISBN is. Dit word aan elektroniese boeke toegeken en is net so geldig soos ISBN.

© Johan Crous.

  • Share on Tumblr
  •  
Posted in Skryf / Writing.

Johan Crous